God wil hê dat ons doelbewus spesifiek moet bid.
Dan oordink ons mooi wat ons bid, en kom dit in opregtheid.
Ons moet nie maar net vaag bid nie.
Praat uit jou hart met God, soos jy dit spesifiek bedoel.
Hy antwoord ook dikwels spesifiek, op spesifieke gebede.
Dit bly natuurlik Gód se wil, hoé Hy wil antwoord.
Ons kan nie voorskryf nie. Maar God skep ook behae in gebedsverhoring.
Josh McDowell was onseker oor sy oorlede moeder se verhouding met die Here,
of sy gered was, geloofsekerheid gehad het, en wáár sy is.
Hy het gebid dat die Here aan hom ‘n antwoord moet gee,
sodat hy vrede daaroor kon hê.
Dit klink onmoontlik.
Op ‘n stadium het hy na die strand gegaan en op die hawehoof gestap.
Hy het begin gesels met ‘n vrou wat daar sit en visvang het,
saam met ‘n paar ander vissermanne.
“Waar kom jy vandaan?”, wou sy weet.
“Michigan – Union City. Ek sê gewoonlik vir mense dit is ‘n voorstad van..…”
“Battle Creek”, val sy hom in die rede.
“Ek het ‘n niggie McDowell daar gehad. Het jy die McDowell gesin geken?”, vra sy.
Stomgeslaan antwoord Josh: “Ja, ek is Josh McDowell.”
“Ek kan dit nie glo nie!”, sê sy.
“Ek is ‘n niggie van jou ma!”
Josh het met haar begin gesels oor sy ma, en ook sy ma se verhouding met die Here.
Die niggie het vertel hoe sy en Josh se ma as tieners tentdienste bygewoon het,
en hoe hul altwee hul harte vir die Here gegee het, op die vierde aand van die reeks.
“Loof die Here! Hy het my pleitgebed beantwoord!”,
het Josh tot verbasing van die ander vissermanne uitgeroep.
Dit is vir die Here ‘n vreugde om ons spesifieke gebede,
binne sy wil, met spesifieke antwoorde te beantwoord.
Verrassende antwoorde van die Here, mag net om die draai vir jou wag.
“Maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking,
en met danksegging aan God bekend.” – Filippense 4:6.
Bid spesifiek en opreg, in alles.
Ernest