‘n Passasierskip was van Engeland onderweg na New York.
‘n Hewige storm het die skip heen en weer geruk.
Die kaptein se vrou en dogtertjie was ook aan boord.
Die dogtertjie het bang gevra of haar pa op die dek van die skip was.
Nadat haar ma dit bevestig het,
het sy gesê dat hulle dan nié bang hoef te wees nie!
Pa is mos op die dek.
Sy het onder die komberse ingekruip en rustig geslaap.
Haar pa is in beheer!

Ons hemelse Vader is ook in beheer!
Geen Christen is gevrywaar teen die storms van die lewe nie.
God se reddende genade waarborg nie ‘n lewe vry van storms nie.
Tog word ons verseker van ons Vader se deurlopende teenwoordigheid.
Ons is aan boord van die lewe, saam met die Here.
Ons Vader is op die “dek” van die lewe.
Alhoewel die stormwinde van die lewe oor ons losbars,
kan ons verseker wees van ons hemelse Vader se teenwoordigheid.
Die uitdaging is om bewustelik, soos die dogtertjie,
in en uit die teenwoordigheid van die Vader te leef!
Dit is een ding om dit te weet, en te sê jy glo dit.
Dit is ‘n ander ding om daaruit te leef.
Om, soos die dogtertjie, nie bang te wees nie, dit te sê en te gló,
onder die kombers in te kruip, en rustig te slaap.
Ons wil meer dikwels op die dek uithardloop,
om beheer uit ons Vader se hand te neem.
Dan hardloop ons gespanne op die dek rond.
Rustig. Vertrou.
Die Vader is op die dek, en in beheer…

Die storm mag steeds daar wees.
Die winde mag steeds sterk waai.
Maar die Here wat oor wind en weer regeer, is “op die dek”.
En Jesus sê in die storm vir ons:
“Waarom is julle bang, kleingelowiges?” – Matteus 8:26.

Ons is aan boord van die lewe, saam met die Here!

Ernest