Vir die Here gaan dit regtig nie in die eerste plek oor ons gerief nie.
Hy wil ons karakter vorm om meer en meer soos Jesus te leef.
Daarom sê Petrus ook:
“Sy goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het,
om te lewe en Hom te dien.” – 2 Petrus 1:3.
‘n Sokkerafrigter in die Bronx, New York,
wou goeie karaktereienskappe by sy spelers vestig.
In plaas van om hulle name agterop hulle truie te plaas,
het die spelers van Maritime Kollege se truie woorde agterop gehad soos:
respek, familie, verantwoordelikheid, karakter……..
Voor elke wedstryd het die afrigter, Clayton Kendrick-Holmes,
die spelers herinner dat hulle volgens die beginsels op mekaar se truie moes speel.
Dit was merkwaardig hoe hulle gegroei het in karakter!
Hulle het geleer om dit uit te leef, juis daar waar hulle getoets word, op die veld.
Petrus het ook sulke woorde aan ons gegee in 2 Petrus 1:5-7,
karakter beginsels om in die wedstryd van die lewe te leef.
Hy sê ons moet alles in die stryd werp om ons geloof te verryk.
Dit is groei in karakter.
Dra hierdie eienskappe op jou “trui”:
Deugsaamheid - om God se doel vir die lewe na te jaag.
Kennis – om God se Woord regtig te leer ken, wysheid te kry en valsheid te oorwin.
Selfbeheersing – om God in elke moeilike omstandigheid en keuse te eer.
Volharding – om te volhard in moeilike omstandighede, met vertroue in God.
Godsvrug – om die Here in alle omstandighede en verhoudinge te eerbiedig.
Liefde onder mekaar – om opregte liefde onder mekaar uit te leef.
Liefde vir alle mense – om dan, omdat ons mekaar liefhet,
die vermoeë te ontwikkel om alle ander mense ook opreg lief te hê en op te offer.
Speel die wedstryd van jou lewe in hierdie karaktereienskappe wat God gee!
Petrus sê God se goddelike krag het ons regtig alles geskenk wat ons nodig het,
om te lewe en Hom te dien!
Ernest