“Die liggaam bestaan ook nie net uit een lid nie, maar uit baie”.
1 Korintiërs 12:14.

John Wooden, die legendariese afrigter van die UCLA basketbalspan,
het waarskynlik begin met die reël dat spelers sigbaar vir mekaar
erkenning moet gee as ‘n doel aangeteken is.
Die persoon wat die doel aanteken,
moes erkenning gee vir die wat hom daartoe gehelp het.
Gewoonlik kry die een wat die doel aanteken die meeste erkenning.
Nou het die span as geheel meer erkenning gekry.
Om oorwinnings op die veld te behaal,
moes die spelers leer dat die span belangriker is as die indiwidu.

Die liggaam van Christus, die gemeente, funksioneer ook so.
Elke gelowige is ‘n lid van die liggaam.
Paulus sê:
“As almal saam net een lid was, hoe sou daar ‘n liggaam kon wees?
Nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam.”

Dit wat in die gemeente gebeur is nie die resultaat van ‘n indiwidu nie,
maar van die liggaam se funksionering as geheel.
Ons het mekaar regtig nodig.
In die moderne wêreld word baie klem geplaas op indiwidualisme.
Elkeen vir homself.

In die liggaam van Christus, die gemeente, werk dit heel anders.
Nie een lid is belangriker as die ander nie.
Nie een lid doen ook iets belangriker as die ander nie.
Nie een lid kan of moet sê dat hy die ander nie nodig het nie.
Ons gebruik saam die gawes wat God aan elkeen gee,
om sy goddelike doel met die gemeente te bereik.
Doen jou deel.
Ons het mekaar nodig.
Dit is hoe die Here dit wil hê.

Ernest