Shakespear se karakters het altyd een of ander swakheid.
Dit maak die verhaal interressant en dra altyd een of ander boodskap oor.
In die Bybelse karakters sien ons ook hoe menslike swakheid deel is van menswees.
Daar is nie volmaakte karakters nie.
God moes juis aan die kruis, in Christus, handel met ons almal se swakheid en sonde.
Abraham staan bekend as ‘n sogenaamde geloofsheld.
Maar dit was ook waar van hom.
Wat was sy swakheid?
Vrees.
By twee geleenthede het Abraham aan sy vrees toegegee.
Hy het geglo dat die regeerder hom sou doodmaak en sy vrou sou steel.
Genesis 20:11 sê:
“Abraham het gesê: “Ek het gedink hier is niemand wat vir God dien nie,
en dat die mense my sal doodmaak oor my vrou.”
Omdat Abraham bang was, het hy die Farao sowel as Abimeleg bedrieg.
In altwee gevalle het hy gesê sy vrou is sy suster.
Dit het daartoe gelei dat die Farao Abraham se vrou in sy harem ingeneem het!
So het Abraham teen God se wil opgetree.
Moenie sommer maklik Abraham veroordeel nie.
Hoe tree ons soms op in moeilike omstandighede?
Sou jy jou integriteit opoffer, as jy weet dit gaan jou jou werk kos?
Sou jy jou beginsels prysgee, as jy weet dit gaan jou jou gewidheid kos?
Sou jy uit vrees vir spot of verwerping stilbly,
wanneer die Here deur jou aan die woord wil kom?
Ons vrees dikwels net so maklik soos Abraham…
Indien vrees jou optrede vir God beïnvloed ,
onthou dat Hy nooit iets van jou sal vra,
sonder om dit vir jou moontlik te maak om dit te doen nie.
Vertrou God, en doen en sê wat jy moet doen en sê.
Ernest