In ‘n studie is bevind dat kleuters gemiddeld 125 vrae per dag vra.
Volwassenes gemiddeld 6.
Die verskil tussen grootmense en kleintjies, 119 vrae per dag.
Ons hou op vrae vra soos ons groter word.
Ons dink ons weet.
Ons is ook skaam vir dom vrae.
Jesus het egter baie vrae gevra.
Dikwels teenvrae.
Die wetgeleerde wil Hom met ‘n vraag vastrek.
Jesus vra die teenvraag in Lukas 10:36 :
“Wie is die naaste van hom wat onder die rowers verval het?”
Nou is die wetgeleerde in die hoek.
“Die man wat aan hom medelye bewys het”, antwoord hy.
“Gaan en doen jy net so”, antwoord Jesus.
Gaan word jy deel van die oplossing.
Moenie net vrae vra nie!
Ons moet vrae vra wat ons eie lewe verander.
En die van ander.
Vrae waarop ons self ook die antwoord kan wees, en word.
Dit help nie ons bly vrae vra soos:
“hoe kry ons meer jongmense betrokke?”, of,
“hoe bereik ons die wêreld meer effektief?”, of
“waar kry ons beter leiers in die kerk?” nie.
Ons sal nooit voor die wederkoms kan dink
ons het genoeg in een van hierdie vrae geslaag nie!
Dan sou ons arrogant wees.
Beter vrae sou wees:
“Wat kos dit jouself en wat offer jy op om Christus radikaal te volg?”
“Wat is jou eie aandeel in dit wat fout is in die kerk, en wat gaan jy daaraan doen?”
“Watter impak gaan jy self maak in die koninkryk van God?”
Hierdie vrae is persoonlik.
Dit hou nie die probleem weg van jou af nie.
Dit konfronteer jou met jou verantwoordelikheid.
Dit laat nie die oplossings gerieflikheidshalwe by ander nie.
Laat God jou gebruik om deel te word van die antwoord.
Dit wat Hy wil hê moet gebeur!
Dit is jou verantwoordelikheid, as sy volgeling!
Ernest