Dit neem baie energie , tyd en toewyding om verhoudings te bou.
Dit vra ook opregtheid en deursigtigheid.
Om ‘n nuwe gebou op te rig kan maande of jare neem.
Om die selfde gebou te sloop, kan ‘n paar dae of ‘n paar weke neem.
Dit is baie makliker om af te breek as om op te bou.
Dit geld ook persoonlike verhoudings.
In Filippense 4:2 skryf Paulus aan twee vroue in die gemeente.
“Ek vermaan vir Euodia en ek vermaan vir Sintige,
om eensgesind te wees in die Here.”
Die onenigheid tussen die twee vroue,
het die Christelike getuienis van die gemeente skade gedoen.
Paulus doen in vers 3 ‘n beroep op ‘n betroubare medewerker om
ook die vroue behulpsaam te wees om eensgesind te wees,
en die verhouding te herstel.
Christene verskil ook oor sake.
Ons hoef nie oor alles saam te stem nie.
Eensgesindheid is nie eenstemmigheid nie.
Die vraag is hoé om die verskille en konflik te hanteer.
Ons moet dit so doen dat dit steeds aan die gemeente bou.
Die manier waarop ons verskil,
kan opsigself ‘n kragtige getuienis wees van ons eensgesindheid,
ten spyte van verskille.
Dit neem baie tyd en energie om verhoudings te herstel.
Maar dit is deur en deur die moeite werd.
Soos wat ‘n nuwe gebou uit die ruïnes opgerig word,
so sal verhoudings wat tot eer van die Here herstel word,
ook baie sterker wees.
Werk doelbewus aan alle verhoudings,
om eensgesind op God se wil gefokus te wees.
Ernest