Jesus stuur ons uit, met God se genade, na alle mense toe.
In die gelykenis van die groot maaltyd in Lukas 14 beklemtoon Hy dit.
“Gaan uit na die strate en gangetjies van die stad,
en bring die armes en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen.”
Later kom sê die slaaf daar is nóg plek!
Gaan nog! Maak vol! Gaan na almal!
“Gaan uit na die paaie en lanings,
en dring by hulle daarop aan om in te kom,
sodat my huis vól kan word.”
Ons sluit so maklik uit.
God se genade sluit in!
God wil dat alle mense in Jesus glo en inkom.
Mense moet die genadeboodskap uitdra.
Ons,… moet die mense gaan nooi na die Here toe.
Dit is nie die engele se werk nie.
God kies sy kinders om dit te doen.
Gaan deel oral God se uitnodiging van genade uit!
God se opdrag is dat ons die wêreld vol sal leef,
en lóóp met die uitnodiging, soos ‘n veldbrand.
Ons moet mense om elke hoek en draai herinner
aan God se verlossing en vrede wat aangebreek het.
Ons moet hulle nooi om die Koning van alle konings te dien.
Sout, lig, suurdeeg van die Here.
Dit is ons.
Lewende briewe.
Draers van die sleutels van die koninkryk in ons harte.
Ons leef om God se huis vól te maak!
Genade uitnodigings!
Dit is ons.
Ernest