Mens verval so maklik in ‘n slegte gewoonte.
Nogal teen jou wil in!
Jy begin een dag op ‘n slag jou oefenprogram oorslaan.
Later sien jy dit is twee, drie, vier dae!
Of jou dieet.
Elke aand voor slapenstyd val jy die yskas aan.
Jou lyf word, teen jou sin, die slagoffer van ekstra kilogramme.
Dit is ook so met die geestelike lewe.
Jy raak gewoond aan kerkwees, gebed, geestelike gesprekke.
Jy leef daardeur soos ‘n vliegtuig op “autopilot”.
Jy verval eenvoudig in die slegte gewoonte dat dit vir jou só gewoon is!
Jy prewel sonder emosie en bedoeling die liedere,
liedere van lof, en aanbidding, en belydenis.
Die Bybel waarsku ons teen ‘n oorgeruste lewenshouding.
‘n Verveelde ingesteldheid,
waar niks van God jou amper meer kan verras nie!
Jy ken die Bybelverhale.
Jy ken die tekste.
Jy weet hoe verloop die erediens.
Jou tafelgebed is net gewoonte.
En met God is jy ook ewe tuis.
Oor Hom praat jy so maklik soos oor enige iets anders.
Alles voorspelbaar, vervelig, voor die hand liggend.
Jy gaan net deur die bewegings, die “drills”.
Ons word godsdienstige gewoonte-slagoffers.
Word weer ‘n slag regtig stil voor GOD!
Eenkant.
Nie daar waar jou godsdiens afspeel nie.
Kom diep onder die bewussyn Wie God regtig is!
Begin weer honger en dors na Hom!
Klop, worstel, soek.
Moenie na geestelike dinge en handelinge soek nie…
Vergeet van gebedslyste, bybelstudies, en byeenkomste.
Laat God se heiligheid eers weer diep in jou siel inbrand.
Dán gaan jy terug daarheen, waarvandaan jy gekom het.
Maar sáám met God!
Dán is jy nie meer mak nie, of verveeld nie, of op “autopilot” nie.
Dit is wat ons nodig het…
Om weer te ontdek “Sy voete is soos geelkoper wat in ‘n smeltoond gloei,
en sy stem soos die gedruis van ‘n groot watermassa.” – Openbaring 1:15.
Hy is Here!
Hy is God!
Ernest