“Toe ek Hom sien, het ek by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is.
Hy het toe met sy regterhand aan my gevat en vir my gesê:
“Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste.”
Openbaring 1:17.

Hoe leer ons om klein in onsself te word?
Daar is net een manier.
Ons moet weer in ons totale wil, hart en verstand,
bewus raak van die grootheid van Christus.

In ‘n biografie oor Franklin Roosevelt,
word vertel hoe hy en ‘n vriend soms in die aande die hemelruim bekyk het.
Sy vriend was William Beebe, ‘n wetenskaplike.
Dan het Beebe probeer verduidelik hoe groot die sterrestelsels is.
President Roosevelt het dikwels gesê:
“Nou is ek klein genoeg. Nou kan ek gaan slaap.”

Die versoeking is so groot by ons om vernaam te wees.
Dit was in elk geval die oersonde in die paradys.
Die mens wou nie regtig voor God buig nie, maar God wees.
Hulle wou langs Hom op die troon sit.
Ons jaag eerder trone en krone, as die kleed van ‘n kneg, wat dien.
Krag tel meer as nederigheid.

Ons moet weer die heerlikheid van Christus sien.
Dan sal ons laag buig in aanbidding.
Ons sal by sy voete neerval, en soos Johannes bly lê, soos ‘n dooie.
Ons is soos stof voor Hom.
Petrus moes in Lukas 5 uitroep:
“Gaan weg van my, Here, ek is te sondig.”

Eers wanneer ons weer diep bewus raak van Christus se grootheid,
sal ons groei in ons kleinheid.
Sal ons groei in pas met God se wil.
Sal ons sê:
“Nou is ek klein genoeg….”,
en Hom aanbid!

Ernest