“Ons verkondig Christus wat gekruisig is.
Vir Jode is dit ‘n aanstoot, en vir die ander is dit onsin,
maar vir die wat deur God geroep is,
Jode sowel as Grieke,
is Christus die krag van God en die wysheid van God.”
1 Korintiërs 1 :23-24.

Die leier van ‘n rockgroep verklaar nou die dag:
“Ons het nie ‘n saak met God nie, en ons is nie rolmodelle nie.”
Dit is inderdaad wie en wat hulle is.
Hulle het hulself ook so bewys.
Wat ‘n groot verset moet in sulke mense se wese lewe.

Wanneer jy in ‘n vreemde stad rigting vra,
gaan jy nie in ‘n argument betrokke raak
as die persoon jou vriendelik wil help met rigting nie….
Jy sal die stadsbewoner se vriendelike aanwysings volg.
Jy gaan nie sê dit is te eenvoudig nie,
of dat jy nie lus is om terug te draai nie,
of dat dit te veel opoffering vra nie,
of dat jy nie hou van daardie straat of rigting nie….

Tog snaaks dat ons onsself op aardse vlak onderwerp aan rigtingwysers,
oudisies, toelatingseksamens, verkeersreëls en padaanwysings.
Maar wanneer die Heilige Gees die weg aandui, dan skop ons vas.
Ons vra uitstel, en wil nie nou al omdraai nie,
of ons wil ons eie rigting volg, of ons luister eerder na vriende.

Ons het allerhande flou verskonings wat nie sin maak nie.
Menslike slimmigheid teenoor God se wysheid.
Ons redeneer Christus is sus of so, maar nie Wie die Woord sê Hy is nie.
Of Christene is oneg. Of die leraar irriteer my.
Of ek het nie tyd hiervoor nie.
Of ek wil nie ‘n gek van myself voor ander mense maak nie.

En so stap tollenaars en prostitute deur die poort na die nuwe lewe.
En slim mense wat die wysheid van God as onsin afmaak mis dit…

C.S. Lewis het gesê:
“One thing Christianity cannot be is moderately important!”
Net soos roeteaanwysings.
Dit is verseker nie minder belangrik nie.
Volg die Heilige Gees se weg.

Ernest