Jesus sê in Matteus 11:30
“My juk is sag en my las is lig.”
Sonder God kan die goeie en die slegte van die lewe ondraaglik wees.
Oor ondraaglike laste sê Jesus in vers 28:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is,
en Ek sal julle rus gee.
Neem my juk op julle en leer van My,
want Ek is sagmoedig en nederig van hart,
en julle sal rus kry vir julle gemoed.”
Geen mens is ooit sonder ‘n juk nie.
Slegs Jesus se las vir mense is lig en gee rus.
Hoekom?
Want dit is sy juk en Hy dra dit.
Sy juk was altyd ‘n verhouding met sy Vader.
Voor bogenoemde uitnodiging aan ons,
getuig Hy oor sy Vader en hoe hulle mekaar volmaak ken.
Hoe die Vader alles aan Hom toevertrou het.
Dan nooi Hy ons om na Hom toe te kom,
en in die juk langs Hom die Vader te leer ken, soos Hy Hom ken.
Ons begin saam met Jesus leef, en saam liefhê, en saam werk,
saam vergewe, en saam lof bring aan die Vader.
Saam met Jesus, in sy juk, kom die groot deurbraak.
Ek ontdek dat Hy reeds aan die kruis alles vir my gedoen het, alles!
Dat Hy reeds die ondraaglike las vir my gedra het.
Om in Jesus se ligte juk te lewe, moet ‘n leeftyd lank geleer word!
Ek is nog soos ‘n onervare trekdier wat dikwels dwars trek.
Hy hou nooit op met my nie.
Met genade en geduld laat Hy my langs Hom in die las trek.
So leer ek om sy krag in die juk te voel !
Alles raak moontlik! Want vir Hom is alles moontlik!
Ontdek dat jy, as beeld van God, en God se kind,
bedoel is om in die binnekring van die Drie-Eenheid te leef!
Vader, Seun, en Heilige Gees….en jy!
Ernest