Dit klink dalk vreemd.
God is jou Skepper, Here, Verlosser, Vader, en nog baie meer.
En dan: Die Here wil jou beste vriend wees!
In die Ou Testament is al van Moses en Abraham as “vriende van God” gepraat.
In die Nuwe Testament is dit duidelik dat vriendskap met God net moontlik is deur
God se genade en Jesus se versoeningswerk.
In Johannes 15:14-15 sê Jesus:
“Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel.
Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie,
want ‘n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie.
Nee, Ek noem julle vriende,
omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het,
aan julle bekend gemaak het.”
Vriend beteken nie in hierdie vers ‘n kennis nie,
maar ‘n hegte vertrouensverhouding.
Ons grootste voorreg is dat ons God kan ken en liefhê.
en God se grootste vreugde is om sy kinders, ons, lief te hê.
In hegte vriendskap deel ons al ons lewenservarings met mekaar.
Dit geld ook in ons verhouding met die Here.
Dit is meer as een keer per week kerk toe,
en een keer per dag stiltetyd.
Alles wat jy doen, jou hele lewe, leef jy as tyd met die Here!
Kolossense 3:23 sê:
“Wat julle ookal doen, doen dit van harte soos vir die Here,…”
Die naaste plek aan God, is juis die plek waar jy is, want God is daar!
Leef deurgaans bewustelik in sy teenwoordigheid.
Om ‘n vriend van die Here te wees is ook meer,
meer as om deurgaans van Hom bewus te wees.
Jy moet ook weet wat sy wil is.
Leer ken Homen sy wil in sy Woord.
Oordink dit deurgaans, en leef daarvolgens.
Dan lééf jy saam met die Here.
So groei jy in vriendskap met die Here,
wat juis in bogenoemde teks gesê het:
“…Ek het alles wat Ek van my Vader gehoor het,
aan julle bekend gemaak.”
Daarom noem Hy ons sy vriende, sê Johannes 15:15.
Laat die Here jou beste vriend word!
Ernest