Jy is so na aan God as wat jy wil wees.
Om naby aan God te leef kos begeerte, tyd en energie.

Dit vra ‘n volkome eerlike verhouding met Hom.
Nie een mens is volmaak nie, ook nie God se kinders nie.
Hy weet ons kla en twyfel, en is ondankbaar.
En daarom kan ons ook eerlik voor Hom leef.
Hy ken ons.
Ons kan niks wegsteek nie.
Hy wil juis hê dat ons oor alles met Hom sal praat, uit ons hart.
God vra eerder eerlikheid as volmaaktheid.
God dink nie jy is voorbarig as jy opreg is nie.

Om naby God te leef kos ook gehoorsaamheid.
Om God se wil te doen, al verstaan jy nie.
Die Here het juis in Johannes 15:14 gesê:
“Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel.”
Ons gehoorsaam die Here nie uit plig, vrees of dwang nie.
Ons gehoorsaam Hom omdat ons Hom liefhet en vertrou.
Hoe getrouer ons Hom volg, hoe dieper groei ons verhouding,
en hoe nader leef ons aan God.

God se wil moet my wil word.
Wat Hy op prys stel, moet ek op prys stel.
Waaroor Hy bly is, sal ek oor bly wees.
En waaroor Hy treur, sal ek oor treur.
Daarom gaan deel ek God se hart met mense.
Dit laat my nader aan God lewe.

‘n Intieme verhouding met die Here is ‘n keuse.
Dit gebeur nie toevallig en vanself nie.
Jy moet dit doelbewus soek en daarvoor lééf!
Daar is absoluut niks belangriker in die lewe,
as om doelbewus naby aan die Here te leef nie.
Dit is jou keuse.
Jy leef so na aan God as wat jy wil wees….

Ernest