Een van die kortste boeke in die Ou Testament is Habakuk.
In ‘n paar bladsye vorder Habakuk van desperaatheid tot vreugde.
Vanuit die dieptes tot die hoogtes.
Dit laat Hom in Habakuk 3:17-18 sê:
“Al sou die vyeboom nie bot nie….
nogtans sal ek in die Here jubel,
sal ek juig in God, my Redder.”

Wat het hierdie besonder opmerklike verandering gebring?
Wat laat hom met klagtes begin en met ‘n loflied eindig?
Drie dinge:
God sê dat daar ‘n oordeel oor die bose sal wees,
maar die regverdige sal deur sy geloof lewe.
Soos die waters die seebodem bedek,
so sal die magtige teenwoordigheid van die Here,
oral op die aarde geken word!
En, die Here ís in sy heilige tempel!

Hierdie drie wonderlike waarhede,
was dit wat Habakuk gelig het vanuit die dieptes na die hoogtes.
Van depressie na vreugde.
Nou het hy sy oë op die Here gevestig,
en nie meer op die ontmoedigende omstandighede rondom hom nie.
Hy vind nou sy vreugde in die Here.

Ons kan ook in die moeilikste omstandighede wéét:
Die bose is oorwin!
Ons leef die nuwe lewe uit geloof!
Die Here se magtige teenwoordigheid ís by ons!
En die Here kom verseker wéér!

Ernest