Baie mense hou nie van ‘n God wat kwaad word en straf nie.
Hulle wil net hoor van God se liefde en genade.
God is inderdaad liefde, sê 1 Johannes 4:8.
En God se genade is onpeilbaar groot.
Maar God haat ook sonde!
Dit is die teenkant van liefde.
Dit sou ‘n probleem wees as God nie onreg haat nie.
Onreg het Hom sy Seun se lewe gekos aan die kruis.
Onreg wil juis sy skepsels wie Hy liefhet, van Hom af wegruk.
Die bose is ‘n werklikheid en word gehaat.
Bertrand Russel het ‘n ateïs geword oor Jesus se woorde oor die hel.
Hy wou skynbaar ‘n God hê wat nooit sou kwaad word nie en nie straf nie.
Maar sou ons ‘n God kon aanbid wat onreg verduur,
ten koste van liefde en menswees?
Sou ons sonde net kon verdra sonder optrede?
Sou ons kon aanvaar dat alles maar goed is?
Sou ons eerlik wees om so te redeneer?
Gedurende Nahum se tyd was die Nineviete wrede mense.
Hulle het afskuwelike dade gepleeg.
Moes die Here terug sit, en onreg sy weg laat gaan?
Die Here gryp juis in ter wille van liefde en reg!
Hy verseker dat Hy die bose dade sien.
Dat hy kwaad is daaroor en gaan optree.
“Die Here wreek Hom….
Die Here is lankmoedig….
Hy sorg vir die wat by Hom skuil.” Nahum 1:2,3,7.
God het aan ons ‘n vrye wil gegee.
Liefde is juis in sy wese ‘n keuse.
Maar God hou ons verantwoordelik vir ons keuses.
God is juis ‘n God met morele integriteit.
Dit gee my die vertroue om in geloof te weet Hy sal sy beloftes nakom.
Dit verseker my ook dat onreg nie sal oorwin nie.
Liefde en genade hét reeds oorwin!
Die liefde en genade van God!
Ernest