Ons hoef gelukkig nie almal op dieselfde wysie te glo nie!
Elkeen van ons leef in ‘n unieke verhouding met ons Vader,
die Here Jesus Christus, en die Heilige Gees.

Moenie jou verhouding met die Vader normatief maak,
vir ander kinders van die Vader nie.
Net die getuienisse oor God in die Bybel, wys dit al vir ons.
Dit is soos verskillende kosbare komposisies.
Geïnspireerde “komponiste”, bybelskrywers, wat elkeen iets van God se stem ervaar het,
het dit “getoonset”.
Elke musiekstuk het ‘n onvervangbare identiteit.
Elke musiekstuk kan ook vir ‘n nuwe tyd vertolk word.

Ons kan nie die Bybelboodskap verskraal na een wysie toe nie.
Ons moet so vry wees dat ons nie hoef te konformeer nie,
maar tog vry uit ons oortuigings kan lewe!
Terselfdertyd moet ons daarteen stry,
om nie ander te veroordeel wat nie dieselfde wysie as ons sing nie.

God is groter as ons eensydige vertolkings.
Hy is meer as wat ons kan begryp.
“….Hoe ondeurgrondelik is sy oordele,
hoe onnaspeurlik sy weë!” Romeine 11:33.
Hy tree Self in ‘n verhouding met elke kind van Hom.
Unieke verhoudings!
Ons hoef regtig nie almal op dieselfde wysie te glo nie!
Jou opregte vertolking is vir God kosbaar!
Leef in ‘n opregte verhouding met Hom!

Ernest