Die ware toets vir ons integriteit kom wanneer niemand anders ons sien nie.
Die professionele golfspeler, Ray Floyd,
het gereed gemaak om ‘n sethou in te slaan.
Hy het gemerk dat sy bal effens beweeg het,
net toe hy die setstok net naby die bal gebring het,
sonder om eers daaraan te raak.
Die reëls bepaal dat in so ‘n geval ‘n strafhou geneem word.
Floyd was een van die voorlopers in die toernooi.
Sy medespelers het nie gesien dat die bal beweeg het nie.
David Holahan skryf in ‘n golftydskrif dat die meeste spelers,
in so ‘n geval, afbuk en vining met hulle hande oor die bal waai,
asof daar ‘n insek daarop gaan sit het.
Dan tree hulle terug van die bal af,
loer of ‘n medespeler die bal sien beweeg het,
en speel dan die hou van voor af.
Hulle teken hul telling aan en gaan voort asof niks gebeur het nie.
Ray Floyd het dit egter nie gedoen nie.
Hy het vir homself ‘n strafhou toegeken,
tot verbasing van die res, wat nie sy bal sien beweeg het nie.
Job het iets gesê van integriteit in die teenwoordigheid van die Here.
“God hou my paaie dop en tel elke tree wat ek gee.” – Job 31:4
Uiteindelik leef ons elke oomblik in die teenwoordigheid van die Here.
Ons integriteit lê oop en bloot voor die Here in alles wie ons is, en wat ons doen.
Daar waar ander mense niks van ons sien of weet nie.
Dit help nie om vir die pawiljoen te speel nie.
Ons integriteit gaan nie oor wat mense dink nie, maar wie ons voor God is.
Ons leef uiteindelik in elke liewe oomblik voor die Here.
Ook hier doen ons dit nie omdat ons bang is oor wat God van ons dink nie.
Integriteit is om nie anders te kan of te wil doen nie,
omdat jy eenvoudig die Here dien met jou hele lewe.
Jou liefde vir Hom laat jou met integriteit optree.
Ernest