“Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos.” 1 Tim. 1:15.

Indien iemand wat nie kan swem nie in diep water val, en dringend om hulp roep,
sal jy ‘n boek met swemlesse na hom gooi?
Sal jy maar net bemoedigende woorde van die kant af skree?
Sal jy van die kant af probeer swemlesse gee?
Sou jy in die water spring en skree:
“Volg my voorbeeld! Ek sal jou gou leer swem!”

Nie een van die moontlikhede sal die drenkeling red nie!
Hy het ‘n redder nodig!
Iemand wat na hom sal uitreik.
Iemand wat hom sal gryp en na veiligheid bring.

Ons geestelike toestand is baie dieselfde.
Voor ons die Redder vind is ons soos drenkelinge.
Romeine 3:23 sê almal het gesondig!
En Romeine 6:23 sê die loon wat die sonde gee is die dood.
Ons kan onsself nie red deur ‘n boek oor godsdiens te lees nie.
Ons kan dit nie eers doen deur die Bybel te lees nie!
Ons kan ook nie harder probeer, om mooier te lewe,
en so die lewe verkry nie.
Ons kan ons ook nie self red deur die voorbeeld van ander na te volg nie.

Ons enigste hoop is op ons enigste Redder, Jesus Christus!
Hy het neergedaal om ons uit die dood te red.
Hy verlos die wat op Hom alleen vir redding vertrou.
Ons moet oorgee en onsself aan Hom toevertrou,
soos wat ‘n drenkeling oorgee,
en homself aan die lewensredder toevertrou.

Hou op om te probeer.
Jy kan nie.
Die Here het alles klaar gedoen wat jy nie kan doen nie.
Daarom is Hy alleen jou redder!

Ernest