Ons soek dikwels vrede in ons omstandighede.
Ons dink; wanneer ons omstandighede verander, sal ons ook vrede hê.
Die probleem is dat die bose in alle omstandighede poog om jou vrede te steel.

‘n Meisie wat in moeilike omstandighede grootgeword het,
in ‘n gesin wat glad nie die Here gedien het nie,
het besluit om weg te breek en vir die organisasie “Vredeskorps”
van Amerika uitreikwerk te gaan doen.
Die korps het haar na Irian Jaya gestuur.
Gou het sy ontdek dat sy ook nie daar vrede het nie!
Eendag het sy in haar werk met ‘n bejaarde Indiaan in aanraking gekom.
Hy was anders as enige van die ander met wie sy te doen gehad het.
Sy het hom gevra waar die vrede vandaan kom wat uit hom uitstraal?
Hy het verduidelik dat Jésus in sy hart kom woon het, en dat dit sý vrede is!
Sy was stomgeslaan.
Sy het die Bybel begin lees, en self die Here Jesus leer ken as haar Verlosser.
Sy het ook die vrede gevind wat God alleen kan gee.
Die vrede waarvan Filippense 4:7 praat:
“En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan,
sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Paulus skryf in Romeine 5:1:
“God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo.
Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.”
Wanneer jy vrede mét God het,
word jy ook die vrede ván God deelagtig!
Dan word Filippense 4:6-7 waar in jou lewe,
en leef jy dit al meer en meer uit:
“Moet oor niks besorg wees nie,
maar maak in alles julle begeertes deur gebed, en smeking,
en met danksegging aan God bekend.
En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan,
sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Ernest