Onthou wat die Here wil hê jy moet onthou.
Vergeet wat die Here wil hê jy moet vergeet.
Twee tekste is belangrik in hierdie verband.
Psalm 103:2:
“Ek wil die Here loof, en nie een van sy weldade vergeet nie.”
Filippense 3:13:
“Ek maak my los van wat agter is, en strek my uit na wat voor is.”
Onthou!
Onthou eerder in alle omstandighede aan Wie God vir jou is,
binne in die omstandighede,
en ook wat Hy vir jou wil doen, in die omstandighede.
Daarom dink Dawid so in Psalm 103:2.
Hy dink aan al God se seëninge in die verlede vir hom.
Hoe Hy hom gered het. Hoe Hy hom vergewe.
Sy siekte genees. Hom dra in krisistye.
Dit versterk telkens weer sy vertroue in die Here!
Ongeag die huidige omstandighede.
Vergeet!
Paulus sê jy moet jou ook losmaak van wat agter is,
dit wat God wil hê jy moet agterlaat, en dit vergeet.
Wanneer jy aan jou sonde, wat reeds bely en vergewe is, bly dink,
maak dit jou teneergedruk.
Jy bly ou koeie uit die sloot grawe…
Paulus moet nie bly leef onder die skaduwee dat hy Christene vervolg het nie.
Maar hy moet ook nie bly dink aan dit wat hom in die wêreld geëerd gemaak het nie.
As hy met trots bly dink hoe hy ‘n lid van die Joodse gemeenskap was, met baie hoë aansien,
óf hoe hy later ‘n besondere openbaring van God ontvang het,
kan hy hoogmoedig en selfvoldaan raak.
Dit is nie meer belangrik nie.
Hy het ‘n nuwe nederige status van dienskneg vir die Here te wees,
en Hom alleen te dien en te eer!
Onthou dit wat die Here wil hê jy moet onthou,
en vergeet dit wat die Here wil hê jy moet vergeet.
So sal jy geestelik groei soos die Here dit wil hê.
Die Heilige Gees sal jou die onderskeidingsvermoë gee.
Luister na Hom, en gehoorsaam Hom.
Ernest