Om kos te preserveer is om dit vars te hou,
tot die vervaldatum op die verpakking.
Sommige Christene wil hê die Here moet dieselfde met hulle doen.
Hy moet hulle ongebruik en ongetoets deur die lewe laat gaan.
Hulle wil ongeskonde by die hiernamaals aankom.
In die Bybel is dit duidelik dat die eerste Christene nie gepreserveer is nie.
Neem byvoorbeeld vir Paulus.
Toe ‘n profeet genaamd Agabus in Handelinge 21 aankondig
dat hy in Jerusalem gevange geneem gaan word,
wou Paulus se helpers nie hê dat hy daarheen moes gaan nie.
Paulus laat hom nie hierdeur van stryk bring nie.
Hy sal selfs sterf vir die evangelie wat hy verkondig.
Paulus wil deur die Here gebruik word.
Dit gaan nie vir hom om sy eie preservering of selfbehoud nie.
Derduisende mense plaas Sondae alles op die altaar vir die Here.
Maar eintlik soek hulle ‘n God wat hulle in die week sal preserveer en bewaar.
Navolging van Christus gaan egter oor die selflose weggee van jouself,
aan die Here en aan ander mense.
Nie oor preservering nie.
In hierdie wêreld tel jy die merktekens van die kruis op.
Die uitdaging is nie om ongeskonde die ander kant te haal nie.
Tel die merktekens van die kruis op in jou lewe vir die Here!
Ernest