“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart
en met jou hele siel en met jou hele verstand
en met al jou krag” – Matteus 12:30.

God wil jou hele lewe hê.
God wil nie net ‘n deel hê nie.
Hy stel nie in halfhartige toewyding belang nie.
Ook nie in gedeeltelike gehoorsaamheid nie.
Ook nie in die krummels van jou tyd en besittings en geld nie.

Daarom is die waárom jy aanbid, en die geé van jouself,
belangriker as waár jy aanbid.
God vra eenvoudig opregte aanbidding met jou hele lewe.
Maar blote opregtheid kan verkeerd wees.
Daarom sê Jesus ons moet “in die waarheid” aanbid.
Jy aanbid met joú hart en verstand.
Maar ook met joú siel en al joú krag.
Almal kan nie God eenders aanbid nie.
God het ons dan juis nie eenders gemaak nie.

Gary Thomas sê in sy boek Secret Pathways dat ons nie mekaar moet dwing om
op “my manier” te aanbid nie.
My manier van lewe saam met God, is nie normatief vir jou lewe saam met God nie.
Die beste soort aanbidding, met jou unieke verhouding met God, en jou persoonlikheid,
is die aanbidding wat jou liefde vir God die opregste verteenwoordig.
Aanbid God met jou lewe soos Hy jou geskep het om te wees.

Gary Thomas sê daar is verskillende maniere om aanbidding uit te leef.
Naturaliste word die meeste geïnspireer deur God in die natuur.
Gevoelsmense aanbid meer met hul sintuie in aanbiddinsdienste.
Tradisionaliste aanbid meer deur rituele, liturgie, simbole, en struktuur.
Askete aanbid God in afsondering en eenvoud.
Aktiviste konfronteer die bose en veg vir God se koninkryk.
Versorgers aanbid God deur ander lief te hê en te versorg en om te gee.
Geesdriftiges het God lief deur verskillende vierings in en van die lewe.
Peinsers het God lief en aanbid Hom deur oordenking en verering.
Intellektuele aanbid God met die bestudering van sy Woord en die betekenis daarvan.
En dan is baie van ons nog iets van ‘n paar van hierdie dinge….en persoonlikhede.
Feit bly staan:
God wil hê jy moet jouself wees, en jouself volkome aan Hom toewy!
Ons moet onsself as “lewende offers” gee, sê Romeine 12.
Met joú hele hart, joú hele siel, joú hele verstand, en al joú krag!

Ernest