“Nie elkeen wat vir My sê “Here, Here”, sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie,
maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.” – Matteus 7:21.

Gelowiges is nie perfeksioniste nie.
Hulle is mense wat gehoorsaam aan God wil wees.
En dikwels sukkel hulle ook daarmee.
Wanneer ons dit onthou maak dit ons vry.
Vry van die wêreld wat die etiket van perfeksionisme om ons nekke wil hang.
Dan is dit alte maklik vir die wêreld om Christene te veroordeel.
Dan sê hulle so maklik ons is heilig maar kyk net al ons foute.

‘n Heilige is nie iemand wat beter is as ander nie.
Dit is net iemand wat die goedheid van God beter leer verstaan het.
Wat sy genade en vergifnes en liefde ontdek het.

Daarom gaan Jesus verder in vers 24 en sê:
“Ek het julle nou baie dinge oor God geleer.
As julle my woorde ter harte neem en dit doen,
tree julle reg op.
Dan is julle lewens op ‘n stewige fondament gebou.”

‘n Gebou staan of val letterlik by sy fondamente.
So staan die Empire State bebou in New York stewig op sy fondament,
al waai die wind hom stadig heen en weer in die wolke.
Maar die toring in Pisa in Italië leun sterk oor.
Die probleem is sy fondament wat besig is om weg te sak.

Jesus verduidelik dit verder in vers 26:
“Aan die ander kant: as julle my woorde hoor en dit nie doen nie,
is julle regtig dom.
Dan is julle lewens op ‘n hoop sand gebou.”

Hoe weet ‘n mens jou lewe is op sand gebou?
Of op rots?
Op rots gebou, beteken jy doen wat die Here sê.
Jy leef afhanklik en gehoorsaam van die Here.
So ‘n lewe staan stewig op die Rots, al kom die storms.

Waaop bou jy jou lewe?
Luister jy net na die woorde van die Here?
Of doen jy dit!?

Ernest