Ons kan baie maklik uitstel.
Sekere dinge sal seker nie ‘n groot verskil maak nie.
Maar baie dinge, wat eintlik lewensbelangrik is, stel ons uit!
Te veel mense het al gesê:
“Ek het gedink ek sal nog……..
gereeld met my kind speel;
regtig na my kind luister as hy praat;
vergewe en vrede maak met my broer en suster;
meer liefde betoon teenoor my lewensmaat;
vir my ouers sê hoe lief ek hulle regtig het;
saam met my vriend koffie drink;
betrokke raak om mense te dien;
iets terug te gee aan die lewe;
die Evangelie met iemand deel;
…….nou is dit te laat.”
Jakobus 4:14 sê:
“Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie!”
Om uit te stel is inderdaad om baie te waag.
Ons dink die waagstuk is om uit die gemaksone te kom.
Nee, die waagstuk is om passief daar te bly sit, en uit te stel !
Die Here beklemtoon so dikwels die woord “vandag”.
“Kies dan vandag wie julle wil dien” – Jos. 24:15.
“As julle vandag maar na Hom wou luister” – Ps. 95:7.
“Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie” – Heb. 3:7-8.
Vandag se uitstel is môre se verlies.
Daarom is uitstel ‘n groot waagstuk.
Maar, vandag se gehoorsaamheid, is geen waagstuk nie!
Ernest