“Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie,
maar van gehoorsaamheid aan God,
vrede en vreugde,
wat die Heilige Gees ons gee.”
So eenvoudig praat Romeine 14:17 oor die koninkryk van God.
Die Evangelie is so eenvoudig.

Soos hier in die Romeine teks,
sleep ons minder belangrike sake by.
Hulle wil hê dat gelowiges steeds sekere heilige dae moet hou,
en hulle mag net sekere kosse eet…..en, en…
Ons stel dikwels veel meer in wettiese dinge belang,
as in die verhouding met God.

Hoe ingewikkeld het ons nie die Evangelie gemaak nie!
Ons stry en veroordeel mekaar,
oor dinge wat nie in die kern van ‘n verhouding met God staan nie.
En dit is dikwels omdat ons nie God se hart en wil van harte ken nie.

Kom ons kyk weer mooi waaroor dit regtig gaan.
Die essensie van God se koninkryk word in ons teks in drie dinge vasgevang.
Gehoorsaamheid aan God.
Vrede.
En vreugde.
Al drie hierdie dinge word deur die Heilige Gees aan ons gegee!
Dit is alles verhoudingstaal.

Kom ons laat die essensie weer die essensie in ons lewens wees.
Hou op om mekaar oor wettiese dinge te veroordeel.
Ons sal dit regkry as ons self ophou om wetties te dink en te lewe.
Gaan lees weer hierdie Romeine 14 gedeelte…

Ernest