Wees vrygewig!
Jesus het ons kom wys wat vrygewigheid is!
Om op te offer. Om weg te gee.
Die lewe, en ons wêreld, probeer ons gedurig wysmaak
dat hoe meer aardse sekuriteit jy het,
hoe gelukkiger is jy.
Die teendeel van wat Jesus ons leer.
En eers as jy ontdek het dat jy self genadebrood en hemelse water
uit God se hand ontvang het, dat jy soos ‘n bedelaar voor Hom gestaan het,
eers dan leer jy by die Here Jesus om met ‘n ruim hart te lewe.
Om ander te dien met jou besittings, tyd, geld, gebede en omgee.
Dit gaan oor gee, en nie oor ontvang nie.
Ruimhartigheid in plaas van suinigheid.
1 Timoteus 6:8 sê:
“As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.”
Dit beklemtoon eenvoud. Om eenvoudig te lewe voor die Here.
Om nie slagoffers te wees van vandag se verbruikerskultuur nie.
Tevredenheid en geluk word nie gevind in die dinge wat jy op jou naam het nie.
Dit word veral gevind in dit wat jy weggee.
Uiteindelik beteken dit om jouself te gee.
Ons moet weer daarop fokus om beleggers te wees in die koninkryk van God,
eerder as verbruikers van die hemelse gawes wat die Here ons uit genade gee.
Belegging lê in dit wat jy in die Here se Naam….. weggee!
Verstaan ons regtig vrygewigheid?
Maak jou vrygewigheid jou regtig vry van die gejaag na besittings?
Is jou gemoed al vry in jou vrygewigheid?
Waar belê jy?
Ernest