Wat ookal gebeur, jy hoef nie te vrees nie.
Jy hoef niks of niemand te vrees nie.
Dit is gegrond op die feit dat jy nooit buite God se teenwoordigheid is nie!
Hy sorg elke oomblik vir jou, veral ook in die grootste krisis.

Jesus beklemtoon dit met Matteus 10:29-31:
“Julle weet dat twee mossies vir ‘n skamele sent verkoop word.
Tog beland nie een van hulle hulpeloos op die grond
sonder dat julle Vader daarvan weet nie.
Wat julle betref, is elke haar op julle kop getel.
Wees daarom nie bang nie.
Julle is vir Hom meer werd as ‘n hele swerm mossies.”

Iemand het geskryf:
“Vrees het aan die deur geklop.
Toe geloof dit oopmaak, was niemand daar nie.”
Geloof wéét – Hy wat aan my kant is, is almagtig!
Magtiger as enige iets of iemand wat teen my is.
En Hy sorg vir my! Hy is oneindig lief vir my!

Hugh Latimer het op die brandstapel gesterf vir sy geloof.
Hy het, voor dit, op ‘n dag gepreek waar koning Henry ook teenwoordig was.
Hy het geweet dat hy iets gaan sê waarvan die koning nie gaan hou nie.
Dit kon sy einde beteken.
Hy het hardop van die kansel af gesê:
“Latimer! Latimer! Latimer! Wees versigtig wat jy sê.
Koning Henry is hier!”
Hy het toe vir ‘n rukkie stilgebly en weer hardop gesê:
“Latimer! Latimer! Latimer! Wees versigtig wat jy sê!
Jesus, die Koning van alle konings is hier!”

Ons is altyd en oral in die teenwoordigheid van God.
Moenie bang wees nie!
Jy is vir Hom meer werd as ‘n swerm mossies.
Mossies, wat Hy een vir een versorg!
Hy tel elke haar op jou kop!
Dit is hoe omvattend God se sorg vir jou is,
sê Jesus!

Ernest