Om ambisie te hê is belangrik.
Niemand wil op sy personeelverslag die woorde “gebrek aan ambisie” sien nie.
Ten opsigte van jou werk en jou betrekking sal jy nie vooruitgaan sonder ambisie nie.
Ons moet ‘n behoefte hê om regtig iets in die lewe te wil bereik.
Anders sal niks deur ons tot stand kom nie.

Ambisie kan egter ook ‘n negatiewe kant hê.
Om jouself te wil verhoog ten koste van ander.
Om slagoffers langs die pad van ambisie te laat,
eerder as mense in wie se lewens jy ‘n positiewe verskil kon maak.

Ons sien die waarheid met baie van Israel se konings.
Saul is ‘n goeie voorbeeld.
Hy het in nederigheid begin, maar in hoogmoed verval.
Hy het so belangrik vir homself geword,
dat hy vergeet het dat hy ‘n spesiale opdrag van God ontvang het.
Hy moes die volk so lei dat dit getuieniskrag sou hê vir die ander volke.
Wanneer God hom uiteindelik uit sy pos onthef,
is sy enigste bekommernis steeds net sy eie situasie – 1 Sam. 15:30.

Kompetisie is kwaai in ons wêreld.
Mense doen alles in hulle vermoeë om in posisies te kom,
veral posisies waar hulle invloed en mag oor ander het.
God roep ons egter om anders te lewe.
Filippense 2:3 sê “moet niks uit selfsug of eersug doen nie.”

Bly nederig in jou ambisie, al vorder jy tot die hoogste posisie
Ambisie is kortsigtig as jou fokus nie op God is nie.
Dien God met jou hele hart, siel, en verstand, en al jou krag.
Juis in jou ambisie!

Ernest