Guido Reni het in 1614 een van die mees indrukwekkende muur-skilderye
van daardie tyd teen die dak van ‘n paleis in Rome geskilder.
Besoekers kon dit egter nie mooi bekyk en waardeer nie,
omdat hulle moes opkyk en hul nekke agteroor moes buig.
Om die probleem op te los het beamptes van die paleis
‘n groot spieël op die vloer onder die skildery aangebring.
So kon besoekers nou die skildery beter sien en waardeer.
Jesus Christus doen ook dit vir ons, wanneer ons probeer om iets van God te begryp.
Hy maak God aan ons bekend.
Hy laat ons God beter “sien”.
In Hom word God vir ons sigbaar en kry ons ‘n begrip van Hom.
Ons kan nie deur ons eie soeke God vind nie.
Christus is God wat na ons toe neerbuig,
en Hy help ons eenvoudige denke om ‘n ware begrip van God te kry.
Maar Christus is ook meer as net ‘n afskynsel van die Vader.
Hy is self God in menslike gestalte.
Jesus het ook gesê:
“Wie My sien, sien die Vader.” – Johannes 14:9.
“Niemand het God ooit gesien nie.
Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is,
die het Hom bekend gemaak” – Johannes 1:18.
Ernest