“Onthou, daar hardloop baie atlete op die baan,
maar net een ontvang die prys.
Hardloop so dat julle die prys sal ontvang.
Al die deelnemers pas absolute selfdissipline toe.
Hulle doen dit nogal om ‘n prys te wen wat heel gou sal vergaan.
Maar ons doen dit vir ‘n ewige prys.
Daarom pyl ek reguit op die wenpaal af,
doelgerig met elke tree wat ek gee….” – 1 Korintiers 9:24-26.

Daar is van vroeg af navorsing gedoen om vas te stel
of ‘n jong perd in ‘n goeie resiesperd kan ontwikkel.
‘n Professor aan die Massachusetts Institute of Technology
het vasgestel dat die bene van ‘n vinnige perd
baie soos die speke van ‘n wiel funksioneer.
Elke been raak die grond wanneer die been voor dit reeds weggestoot het.
Dit lei tot groot effektiwiteit en spoed.
Hy het ook vasgestel dat ‘n perd se manier van loop
min verander na die eerste paar maande.
Dit maak dit ook moontlik om te voorspel of ‘n jong perd
in ‘n goeie resiesperd sal ontwikkel.
Net soveel navorsing en ontwikkeling in tegnologie,
en oefenmetodes, en tegniek gaan in by atlete wat groot hoogtes wil bereik.

Jesaja praat al in Jesaja 40:31 daaroor dat ons die wedloop van die lewe goed moet aflê:
“Maar die wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry.
Hulle vlieg soos arende. Hulle sal hardloop en nie moeg word nie….”
Die wat die beste hardloop is die wat hulle hoop op die Here stel!

In die Nuwe Testament vergelyk Paulus ook die lewe met ‘n wedloop.
Hy beklemtoon selfdissipline en doelgerigtheid.
Ook die skrywer van Hebreërs sê in hoofstuk 12:1
“...kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag,
veral die sonde wat so maklik ‘n houvas op ‘n mens kry.
Kom ons hardloop met volharding…..ons oë vasgenael op Jesus,
die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun.”
Hy beklemtoon volharding en om gefokus te wees, en nie onnodige gewig te dra nie!

Kom ons hardloop die lewenswedloop so!
Stel jou hoop op die Here.
Leef met selfdissipline, en doelgerig.
Gooi die gewig af wat jou spoed vertraag, veral die sonde.
Volhard, en bly gefokus, jou oë vasgenael op die Here Jesus!

Ernest