John Williams, ‘n sendeling in die Hebridiese Eilande,
het die mense beïndruk met sy vertellings van die wonderlike vrug
wat die Here gee waar hulle werk.
Na sy verslag het ‘n ander sendeling sy beurt gekry.
In ‘n nederige stem het hy gesê:
“Ek kan nie van sulke buitengewone suksesse soos John Williams getuig nie.
Ek werk al vir baie jare in ‘n afgeleë land en sien min resultate.
Maar ek het hierdie troos, dat wanneer die Here kom Hy nié sal sê:
“Welgedaan suksesvolle dienskneg” nie,
maar “Welgedaan goeie en getroue dienskneg”.
Hieroor gaan Matteus 25:21:
“Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf.
Oor min was jy getrou, oor baie sal Ek jou aanstel.”
Ons leer uit hierdie gelykenis van die Here Jesus dat
verskillende gawes wat met gelyke ywer en getrouheid hanteer is,
gelyke erkenning van die Here sal ontvang.
In die gelykenis verwys die muntstukke na gawes en geleenthede
wat die Here gee, en waarmee sy werk gedoen moet word.
Dit is nie soseer belangrik wat ons bereik en wat ons “suksesse” is nie,
maar wat ons motiewe en ons getrouheid is.
Ons sukses lê in ons gehoorsaamheid en nie in “hoeveelheid” nie.
Alexander McClaren het gesê “die skrefie lig van God wat deur ‘n gaatjie skyn,
is dieselfde lig van God wat deur ‘n groot verster skyn”.
Moenie die krag daarvan onderskat nie!
Dit is God se lig wat jy bring!
Moenie minderwaardig of onsuksesvol voel as jy in jou terme,
of in menslike terme, “min” bereik het nie.
Verrig jou roeping en jou taak met getrouheid vir die Here.
Getrouheid en toewyding is in God se oë belangrik.
Dit is al wat God van jou vra.
Hy doen die res!
Ernest