“Ek het geplant, Apollos het natgegooi,
maar dit is God wat laat groei het.” – 1 Kor. 3:6.

‘n Kerkraadslid het een Sondag ‘n leraar van ‘n Skotse kerk gekonfronteer.
Hy het hom daarvan beskuldig dat hy die rede is dat so min mense in sy kerk tot bekering kom.
Die leraar, wat baie toegewy gewerk het, was erg teneergedruk hieroor.
Hy het self nie verstaan hoekom hy so min vrug sien nie.
Na die erediens, toe al die mense al weg was, het ‘n jongman na hom toe gekom.
Hy wou weet of die leraar dink dat hy ‘n sendeling sou kon word.
Hy het onder die boodskap van daardie oggend die roeping van die Here ontvang!
Die leraar het in trane uitgebars en gesê:
“Robert!, ek sien nou die hand van die Here in dit wat gebeur!
Ja my seun, jy sal verseker ‘n sendeling kan wees! Die Here roep en stuur jou!
Mag die Here jou seën!”

Baie jare later het ‘n bejaarde sendeling vanaf Afrika na London teruggekeer.
Oral het die mense sy naam met eerbied en waardering genoem.
Hy het baie mense na die Here gelei, kerke geplant,
en van Afrika se wreedste stamhoofde bereik.
Sy naam was Robert Moffat.
Dié Robert, wat jare terug sy roeping as sendeling op dáárdie Sondag oggend,
in dáárdie leraar se boodskap ontvang het, daar in Skotland….

Moenie dink jou diens vir die Here is vrugteloos en tevergeefs nie.
Al wonder jy of enigiets betekenisvol besig is om te gebeur…..
Plant! Saai! Ander gooi nat….
Die Here laat groei!!

Ernest