Nie een rivier lyk dieselfde nie.
Veral as jy hulle uit die lug bekyk, soos vanuit ‘n vliegtuig.
Elkeen kronkel op sy eie manier, daar waar hy vloei.
Dit is natuurlik so omdat elke rivier die weg van die minste weerstand volg.
Riviere kronkel omdat hulle die maklikste uitweg kies.

Christene kan ook maklik kronkelpaaie in plaas van reguit paaie loop.
Ons loop krom paaie as ons die weg van die minste weerstand kies.
Wanneer ons nie versoekings weerstaan nie, of die Bose teenstaan nie.
Dan wyk ons af van die reguit pad wat die Here wil hê ons moet loop.

Daniël het die reguit pad gekies en daarop geloop.
“Daniël het hom voorgeneem om hom nie
met die koning se kos en wyn te verontreinig nie.” – Daniël 1:8.
Hy het nie toegegee aan wêreldse begeerlikhede nie.
Hy het nie kompromieë aangegaan nie.

Niks is so sterk dat ons moet toelaat dat dit ons van die spoor van God af bring nie.
In plaas daarvan dat ons toelaat dat dit ons oorwin,
kan ons juis in die krag van die Here oorwinnend oor alles lewe!
Niks hoef ons van koers af te bring nie.

Anders as riviere, wat eenvoudig die weg van die minste weerstand kies,
kan ons as Christene, in die Here se krag, juis weerstande oorwin en oorkom.
Ons kan weier om van koers af te gaan.
Laat die Heilige Gees jou lei.
Bly op sy koers!

Ernest