Handelinge 1:8 sê:
“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom,
en julle sal my getuies wees….”

Lukas, wat die Evangelie van Lukas en Handelinge geskryf het,
plaas die werk van die Hielige Gees in Christus, en in ons as geloofsgemeenskap,
parallel met mekaar.

Wat beteken dit?
Dit herinner ons waaroor ons geloof gaan.
Om as kinders van die Here, en dissipels van Jesus,
sy soort lewe hier te leef, reg hier waar ons leef!

Christus se oorsprong en lewe lê in die Heilige Gees,
nie in sy aardse menslike bestaan nie.
Ook ons nuwe geboorte lê in die Heilige Gees,
en ook ons krag lê in Hom!

Christus se lewe in die Lukas Evangelie word gekenmerk deur gebed,
en die deurlopende bewustheid van God se teenwoordigheid.
Die eerste geloofsgemeenskappe in Handelinge kry ook hul krag deur gebed,
en hulle leef doelbewus in God se teenwoordigheid.

Christus het ‘n merkwaardige aanvoeling vir die nood van mense,
vir ondergeskiktes en ongewenstes.
Ons moet ook, soos in Handelinge, ‘n “omgeegemeenskap” wees.
Ons moet mense innooi in ons gemeenskap en hulle versorg met liefde.

Christus se lewe vir sy Vader bring Hom in hierdie wêreld in die moeilikheid.
Paulus het ook as gevolg van sy lewe in Christus in die moeilikheid beland.
Ook ons, as geloofsgemeenskap, moet teen die stroom van die wêreld inbeweeg.
Ons sal krag daarvoor ontvang!
Van die Heilige Gees self, sê Handelinge 1:8.

Gaan leef die soort lewe wat Christus geleef het:
Vind jou krag in die Heilige Gees.
Getuig uit Hom.
Leef met gebed.
Leef doelbewus in die teenwoordigheid van die Vader.
Nooi mense in jou omgee-geloofsgemeenskap in,
en versorg hulle met liefde en deernis, alle mense.
Moenie terugdeins vir die teenstand van die wêreld nie.
Loop in Jesus se voetspore.
Dit is hoe Hy geleef het.
Leef jy ook so!

Ernest