Psalm 41:4 sê dat die Here vir ‘n mens sorg as jy siek is….
Party maak die Here gesond, in menslike terme, en ander nie…
‘n Seun wat Polio gehad het, en sy hele skoolloopbaan op krukke moes deurbring,
was altyd opgeruimd en geliefd onder sy vriende.
Eendag het sy beste vriend hom gevra hoe hy dit kon regkry,
aangesien hy nie saam met hulle aan fisiese aktiwiteite kon deelneem nie.
Die seun het glimlaggend gesê dat die polio sy bene geneem het, maar nie sy hart nie!
Die meeste van ons beleef een of ander tyd siekte.
By party gaan dit weer gou oor in gesondheid,
en by party word dit kronies, en selfs lewensbedreigend.
Die natuurlike reaksie is om verlossing van siekte te soek.
Die Bybel waarborg egter nie ‘n lewe vry van siekte en beproewing nie.
Nie elke gebed vir genesing word beantwoord soos ons dit graag wil hê of verwag nie.
Die Bybel belowe egter wel ‘n vrede, ten spyte van.
Indien jy siek is, en nie fisiese genesing ervaar nie,
hoef jou hart nie oor te gaan in bitterheid, of twyfel in jou geloof,
of opstand, of beskuldiging, of selfbejammering, of skuldgevoelens nie.
Wees eerlik met God oor jou hart.
Hy weet in elk geval wat jy voel en dink.
Hy verstaan volkome.
Soos met die seun wat polio gehad het,
kan Hy jou ‘n wonderlike kanaal van liefde en krag maak,
vir ander mense rondom jou!
Hoe raak jou siekte of beproewing jou hart?
Moenie dat dit jou hart wegneem nie!
Dit is wat tel!
Ernest