“Wat julle ookal doen,
doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.”
Kolossense 3:23.

Om iets van harte vir die Here te doen,
is om dit heelhartig vir die Here te doen.
Dit is hoe kinders van die Here leef en optree.
Nie halfhartig nie, maar heelhartig vir die Here.
Wanneer ons dus teenoor ander mense optree,
is dit ook heelhartig vir die Here.
As’t ware “met die Here se hart”.
Om halfhartig teenoor ander mense op te tree,
as’t ware sonder die hart van die Here, bring groot skade.

‘n Katolieke altaarseun moes die Nagmaalbeker voor die priester uitdra.
Hy het die beker laat val en die wyn oor die vloer gemors.
Die priester het halfhartig opgetree.
Hy het nie heelhartig, met God se genadige hart, gereageer nie.
Hy het die seun se kop voor almal geklap en gesê:
“Moenie weer hiernatoe kom nie!”
Die seun het so gemaak en nooit weer sy voete in die kerk gesit nie.

In ‘n soortgelyke situasie het ‘n ander altaarseun dieselfde fout gemaak,
en die Nagmaalbeker laat val.
Maar die priester wat daarby betrokke was, het heeltemal anders gereageer.
Heelhartig, met God se genadige hart, het hy die seun gehelp en gesê:
“Jy gaan eendag ‘n priester word, soos ek, ten spyte van óns foute.”

Die eerste seun het grootgeword en hy was Marshall Toto.
Hy was die diktator en kommunistiese hoof van Joego-Slawië.
Hy het vir jare sy land met ‘n ysterhand regeer.

Die ander seun het aartsbiskop Fulton Sheen geword.
Hy het in die 1950’s ‘n geweldige positiewe effek op mense se lewens in Amerika gehad.

Tree heelhartig vir die Here op,
teenoor elke mens wat in die lewe jou pad kruis!
Tree met God se hart op.

Ernest