Prediker 3:11 sê die mens kan die werk van God,
van begin tot einde nie begryp nie.
Deel van God se identiteit en wese, is dat Hy anders as ons is.
Hy is God, en nie ‘n mens nie!
Hy werk selde presies soos ons dink.
God se handewerk is ten diepste onverklaarbaar groot.
Dit dwing ons altyd op ons knieë in heilige eerbied voor Hom.
Ons kan nie God, of sy handewerk deurgrond nie.
Dit is gevaarlik om te dink God is presies net soos óns oor Hom dink.
As ons so dink, dan meen ons dat ons God se wil en planne volledig uitsorteer het.
Dan lyk dit later net asof God met óns saamstem!
Ons moenie te maklik sê dat God dit of dat vir ons gesê het,
gewys het, of laat doen het nie.
Ons kan gans te selfversekerd oor God raak.
Dan maak ons sy optrede so voorspelbaar,
asof ons self beheer daaroor het.
Natuurlik is God nie anders as sy selfopenbaring in die Bybel nie.
Maar Hy is groter, heiliger en heerliker as wat ons kan verwoord of begryp.
Die Bybel perk God nie in nie. Hy is meer as sy Woord.
Ons kan God nie met ons denksisteme, gebede, leringe of preke in hoekies vasverf nie.
Ons kan sy wil nie eksklusief vir ons lewens opeis nie.
Ons kan net voor Hom buig, en alles afhanklik van Hom verwag, in terme van sy genade.
Om binne die Here se wil te wees, is om baie klein voor Hom te wees.
Ernest