“Gelukkig is die mense wat weet hoe nodig hulle God het,
want hulle het deel aan sy koninkryk.” – Matteus 5:3.

God se wil gaan nie oor sy planne vir ons lewe nie.
maar eerder oor hoe al ons planne inval by sy wil !
God is nie ‘n hemelse mentor nie,
wat ons moet help om ons lewens sinvol en gelukkig deur te bring nie.
Hy is nie in ons span, met ons doelwitte nie.
Ons is in sy span!
Hy het geen planne, om óns idee van ‘n goeie en suksesvolle lewe,
te help bewaarheid nie.
Ons moet radikaal terugkeer na die wete van hoé nodig óns vir God het!

Tom Sine vertel in sy boek, The New Conspirators,
hoe hy ‘n saamtrek van die kerk in die Ooste gewaarsku het,
teen die Weste se verbruikerskultuur.
Teen die “prosperity” godsdiens wat Christenskap binnegedring het.
Tot sy verbasing het Egiptiese kerkleiers opgemerk
dat jong Arabiese Christene reeds so dink en glo!
Christenskap word met materiële sukses identifiseer.
Hulle wil soos Westerse Christene duur motors ry en in mooi huise bly.

Ons beheptheid met wêreldse sukses en simbole van rykdom,
word nie getemper deur ons Christelike geloof nie.
Hoe tragies word dit nie…
Oorvloed van besittings kan nooit ons lewenskwaliteit bepaal nie.

As ons eenvoudiger wil lewe,
hoef ons nie ons besittings noodwendig minder te maak nie.
Ons moet net ons begeertes radikaal afskaal.
Om iets níé te wil hê nie,
is net so goed soos om dit te hê!

Besittings is goed om te gebruik,
en God is daar om, bó alles, deur ons liefgehê te word.
Ons krisis is dat ons nou ons goed liefhet,
en God probeer gebruik!.....

Ernest