Dit is een van die grootste vrae in die harte van mense.
Waarom, hoekom ly ons?
Ons wil dit ook sommer by God self hoor.
Hoekom gaan mense aan kanker dood?
Hoekom sterf mense in motorkapings?
Hoekom verloor mense hulle werk?
Hoekom gaan dit goed met slegte mense,
en goeie mense ly?
Ons kom nie weg van hierdie vrae nie…

Ons hoor dikwels mense sê:
“Mens mag nie sulke vrae vra nie.”
“Glo maar soos ‘n kind.”

Maar dit is nie so nie.
Lees maar Job.
Kyk wat sê Asaf in Psalms 73 en 77.
Of die kritiese Prediker.
Of die ontnugterde Jeremia:
“Waarom is daar nie ‘n einde aan my pyn nie,
waarom is my wond ongeneeslik en wil dit nie gesond word nie?
Ek kan nie op U reken nie,
net so min as op ‘n stroom wat nie standhoudend is nie.” – Jer. 15:18.
Hulle het lyding nooit gelate aanvaar nie.
Hulle worstel en raak selfs woeste dinge kwyt, soos Jeremia.

Maar, hulle het nooit weggeloop van God af nie.
Hulle bly mét God praat, en praat nie net oór Hom nie.
En hulle los nie sy hand nie.

God skuld ons nie antwoorde nie.
God sal Hom laat vind in ons lyding.
Hou net aan soek na Hom.
En hou sy hand nog stywer vas met die wete:
Ek is in sy genadegreep!

Ernest