‘n Mens is verslaaf aan jouself totdat die Here jou vrymaak.
Jy moet sterf aan jouself sodat jy kan leef voor, en saam met God.

Richard Rohr het in een van sy boeke vyf lewenswyshede identifiseer,
om ons vry te maak van ons lewenslange verslawing aan onsself :

Die lewe is nie altyd maklik nie –
Die lewe is selfs hard.
Ons moet leer om ons pyn en verlies in die oog te kyk.
Indien nie, sal ons bly vasval in verbittering, blamering, of plesier-jagtogte.
In ons swaarkry moet ons ontdek die Here se las is lig en sy juk is sag.
“Ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie,
op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.” – 2 Kor. 4:9.

Jý is nie die belangrike mens nie –
Ander mense is belangriker as jy.
Status en sukses het vervaldatums.
Jou waarde in die oog van die samelewing is gering.
Tog is jou naam in die hemel opgeskryf!

Die lewe gaan nie oor jouself nie –
Dit is nie meer jy wat leef nie,
maar Christus in jou.
Hy alleen is jou hoop.
Daarom kan jy buite jouself begin lééf.

Jy is nie in beheer nie –
Jy kan nie beheer oor jou eie lewe neem nie.
Al sê allerhande selfhelp kursusse jy moet.
Die lewe bly onvoorspelbaar, buite jou beheer.
Net jou hemelse Vader is in beheer en sorg vir jou,
en die blomme, en die gras, en diere van die veld…

Jy gaan nie vir altyd leef nie –
Die dood is dood-seker.
Maar Christus hou die sleutels van die dood en doderyk,
en die hemel,… styf vas in sy hand!

Moenie verslaaf aan jouself bly lewe nie!
Kom vry in die Here!

Ernest