Paasfees, Hemelvaart en Pinkster is verby.
Ons is in die middel van die jaar.
Hoe kan ons bly leef wat ons uit die feesdae gekry het?
Drie woorde is belangrik:
Genade, Gees, Getuienis.
Eerstens: Genade.
Philip Yancey sê in “What’s So Amazing About Grace” dat genade gebeur
wanneer die gewer alles gee wat hy het, terwyl die ontvanger niks gee nie,
maar net ontvang.
God het met Paastyd Homself totaal gegee in sy Seun.
Mense wat dit aanvaar ontvang volkome verlossing.
Hulle ontdek God se hart vir hulle.
Wie oorvloed genade in ontvangs neem, sal oorvloed genade gee.
In Lukas 7:47 sê Jesus dit.
Genade kom juis na vore as ek erg tenagekom word.
Dan besef ek God het reeds alles vir my gedoen,
en ek hoef nie myself te handhaaf nie.
Dit laat my die bomenslike krag van die Heilige Gees ervaar.
En ook ek tree op met genade.
Tweedens: Gees, Heilige Gees.
Paasfees en Hemelvaart skakel Pinkster aan.
Die Heilige Gees gee my ‘n bevrydende perspektief op God,
ander, en myself.
Die vrug van die Gees (Gal.5:22) groei diep in my.
Liefde, vreugde en vrede teenoor God.
Geduld, vriendelikheid en goedheid teenoor my medemens.
Getrouheid, nederigheid en selfbeheersing teenoor myself.
Derdens: Getuienis.
Onontbeerlik vir Jesus volgelinge!
Jesus het vir gewone mense belowe dat hulle krag sal ontvang,
wanneer die Heilige Gees oor hulle kom, en so sy getuies sal wees.
Dit het kragtig in die wêreld gerealiseer en groei steeds!
Hierdeur beland God se genade elke dag in mense se harte.
Mense wat dit nuut ontvang en ontdek!
Jou getuienis is onontbeerlik!
Dalk is jy moeg, hier teen die middel van die jaar.
Jesus gee juis nou vir jou sy oorvloedige genade.
Hy gee dit deur die krag van die Heilige Gees in jou.
Juis nou gaan jou getuienis vinniger en verder vlieg.
Mense , en jy, het dit juis nou nodig.
Genade, Gees, getuienis!
Ernest