Prediker sê in 2:13 en 11:17:
Lig baat ‘n mens meer as duisternis.
Die lig is aangenaam.
Johannes 8:12 sê Jesus is die lig vir die wêreld.

Is ons besig om lig te versprei in hierdie wêreld?
Lig verdryf duisternis.
Ons kan selfs met ons optrede ander se lig uitdoof!
Dit is beter om lig aan te steek, as om lig uit te doof.
Die wêreld het al ons lig, en krag, energie en liefde nodig.
Elkeen het baie om te gee, al lyk dit vir jou na min.
Vind dit, gee dit.
So is daar altyd meer om te gee.
Lig wat duisternis verdryf.
Lig wat bevestig die Here het in jou kom woon.
Uit jou siel skyn lig wat in die hemel aangesteek is.

Ons lig is God se lig, wat ons weerkaats.
Jesus het deur sy hele lewe die lig van God laat skyn.
Kom ons lééf dan ook as mense van die lig!
Volgelinge van Jesus kan nie anders nie!

Plato het al eeue terug gesê:
“Ons kan maklik ‘n kind vergewe wat bang is vir die donker.
Die groot tragedie van die lewe is egter dat die mens bang is vir die lig!”

“Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig.
Lééf dan as mense van die lig.
Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is”
Efesiërs 5:8-9.

Ernest