Net gou Here….

Mense wil dikwels net gou met God kontak maak,
ter wille van hulle eie behoeftes, planne en begeertes.
Dit is wat in Jesaja 29 gebeur het.
Wat vang ons aan as ons nie meer kontak met God kan maak nie,
omdat God self ons verhinder, as gevolg van ons eie selfgerigtheid!
God het Hom nie meer aan sy volk openbaar nie!
Hulle het sy Naam te maklik begin noem ter wille van hulle eie voordeel.
Maar hulle is besig met lippediens.
Hulle harte is ver van God af.
Sy wil is nie vir hulle langer belangrik in hulle lewe nie.
In Jesaja 29:13 sê die Here:
“….hulle eer My met wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af,
hulle dien My soos mense dit wil hê, nie soos Ek wil nie.”

Hoe eer ons die Here?
As ons God dien en eer, verander alles in ons lewe vir altyd!
Verandering en vernuwing onder die Heilige Gees word ‘n lewenswyse.
“Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.
Die heerlikheid wat van ons uitstraal , neem steeds toe.
Dit doen die Here wat die Gees is.” – 2 Kor. 3:18.

Eer die Here!
Dit word die mees bepalende woorde in jou lewe.
Dit bepaal jou hele lewe.
Wie dit doen, vir hom sluit die Here die Woord oop.
Meer en meer leer ken jy die Woord, en Hom in die Woord.
Wie Hom nie eer nie, en wie se hart ver van Hom af bly,
ontdek dat die Woord angswekkend verseël kan bly,
omdat jy net gou met God wil kontak maak ter wille van jou eie belang.

Ernest