Slyp mekaar in opregtheid

Baie dinge wat die Here ons beveel om te doen pas ons soos ‘n handskoen.
Ander dinge draai ons ‘n dowe oor voor.
Soos Matteus 18:15-22.
Verse 15-16 sê:
“As jou broer verkeerd opgetree het teen jou,
gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is.
As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen.
Maar as hy nie luister nie,
neem nog een of twee met jou saam,
sodat alles wat gesê word,
deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word.”

Ons doen gewoonlik die teenoorgestelde!
Wanneer iemand ons tenagekom het, of verkeerd teen ons opgetree het,
dan vertel ons dit vir iemand anders om ondersteuning vir onsself te mobiliseer.
Ons verduidelik hoe ons verontreg is, en hoe onregverdig ons ly.
Ons stel selfs die ander persoon in ‘n swak lig.
Die skuldige moet ly onder ons leed.
Ons handhaaf selfs ook ‘n ysige stilte teenoor die persoon.
Of ons takel die skuldige in ‘n emosionele uitbarsting.
Vriendskappe word selfs verbreek.

Jesus sê egter:
Gaan praat met die persoon.
Eers net julle twee, en doen dit opreg.
Doen dit met die doel om die persoon terug te wen.
As hy nie wil luister nie, neem twee opregte gelowiges saam,
en gaan praat weer, steeds met die doel om die persoon terug te wen.

Waarom nog persone saamneem?
Sodat nóg die skuldige, nóg ekself op halwe waarhede,of aannames,
of vermoedens, of agterdog, of ou gesindhede kan bly voortborduur!
Sodat ons in die waarheid die saak kan afhandel ter wille van die eer van die Here!

Die toets is:
Is ons weergawe van die gebeure waterdig?
Is dit so eg dat dit ook die toets van ander gelowiges wat saam luister kan deurstaan?
Om saam aan mekaar te slyp, en ook saam mekaar te beskerm.
Saam die waarheid te praat en die waarheid te dien.
Saam selfbeheersing te beoefen.

So word dit ‘n groeigeleentheid!
Ons groei in die waarheid, en in integriteit,
groei na mekaar toe,
en groei bo alles na Christus toe!

Ernest