Kies die wysheid wat van God kom….

Om met mense saam te leef, saam te werk, of saam te speel,
is deurlopend ‘n risiko in terme van wat om te verwag.
Almal dink nie eenders nie.
Almal ken nie mekaar ewe goed nie.
Almal het nie noodwendig dieselfde agenda nie.
Almal trek ook nie altyd saam in dieselfde rigting nie.

Mense kan dikwels saam lag, net om later mekaar seer te maak…
Die rede is dat ons nie 10 uit 10 mense kry nie.
Daar bestaan nie iets soos volmaakte mense, of volmaakte verhoudings nie.
Van nature is ons gedragspatrone verder ook nog die van selfsug,
naywer, liefdeloosheid, diskrimenering, vooroordele…..
Ons verwar ook maklik ons eie idees en oplossings met God se wil.

Ons het regtig, as kinders van die Here, die wysheid van God nodig.
Jakobus 3:13-18 vestig ons aandag daarop
dat ons altyd in een van twee soorte wysheid leef en handel.
Die wysheid van God, of die wysheid van die Bose en die wêreld.

Wêreldse wysheid onder invloed van die Bose,
is saamwees en saamleef gekenmerk deur wanorde, selfsug en naywer.
Dit kom nie van God nie, en is aards en sinlik.

Die wysheid wat van God kom is saamleef en saamwees,
gekenmerk deur vredeliewendheid, inskiklikheid,
bedagsaamheid, medelye, omgee, en opregtheid.
Die oorsprong daarvan is ‘n lewende verhouding met die Here!
Dit het die wysheid van God tot gevolg.

Jakobus 3:17:
“Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings,
en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam,
vol medelye en goeie vrugte,onpartydig, opreg.”

Met watter wysheid leef jy?
Jou eie wysheid, of wysheid wat van God kom?

Ernest