Stefanus was “ ‘n man met ‘n vaste geloof en vol van die Heilige Gees”. Hand. 6:5.
Stefanus het ook hierdie geloof aktief uitgeleef.
“Stefanus, aan wie God baie genade en krag gegee het,
het groot wonders en tekens onder die volk gedoen.” Hand. 6:8.
Die Jode was hieroor woedend en het met Stefanus begin redeneer.
“..hulle was egter nie opgewasse teen die wysheid wat hy van die Gees
ontvang het en waarmee hy gepraat het nie”. Hand. 6:10.
Stefanus is uiteindelik voor die Joodse Raad gebring.
Hulle “sien dat sy gesig soos die van ‘n engel lyk”. Hand. 6:15.

Hoe het Stefanus dit reggekry om in hierdie omstandighede so sterk op te tree?
Die antwoord lê in Handelinge 7:56:
“Kyk, ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens
wat aan die regterhand van God staan.”
Jesus staan.
Ons onthou gewoonlik dat Jesus aan die regterhand van God sit.
Jesus stáán hier by sy kind wat deur erge lyding moet gaan.
Wanneer Stefanus sy erge marteldood moet sterf,
dan stáán Jesus hom by, en Hy staan ook om hom te ontvang in die hemel.

Stefanus sterf met ‘n loflied.
En in sy uur van dood word geloof aanskou!
Alles wat hy op aarde moes glo,
word nou ‘n sigbare werklikheid vir hom.
En in die kern van dit alles stáán Jesus!

Ook ons, wat Christus liefhet en Hom op aarde bely,
ten spyte van wat ookal mag gebeur,
sal Hom so sien staan!

Ernest