Twee soorte mense…

Die gelykenis van die twee seuns in Matteus 21:28-32 verduidelik dit,
dat daar twee soorte mense is, volgens Jesus.
Die pa het vir die een seun gesê om in die wingerd te gaan werk.
Hy het geantwoord “Ek wil nie”, maar tog later spyt gekry en gegaan.
Die pa het vir die ander seun dieselfde opdrag gegee.
“Goed, Pa”, het hy gesê, maar hy het nie gegaan nie.
Uiteindelik het die eerste gedoen wat die pa gesê het.

Jesus sê so is daar ook twee hoofgroepe mense.
Die eerste groep hoor die boodskap van verlossing,
en hulle minag dit skynbaar.
Hulle bedroef eers die Vader, kry daarna berou, kom tot bekering,
en gaan leef dan voluit vir die Here.
Jesus noem die straatvroue en tollenaars as sulke voorbeelde.

Die tweede groep mense aanvaar skynbaar die boodskap van verlossing,
maar hulle draai almal ‘n rat voor die oë.
Hulle leef voort asof hulle God liefhet,
maar hulle staan nie in ‘n verhouding met Hom nie.
Die Fariseërs en skrifgeleerdes word as ‘n voorbeeld deur Jesus gebruik.
Mense wat propvol godsdiens is,
maar geen verhouding met God self het nie.

Hierdie gelykenis praat met elkeen van ons persoonlik.
Ons kan baie mense ‘n rat voor die oë draai,
maar God ken ons harte en ons lewe waar niemand ons sien of ken nie.
Hy weet of daar ‘n vlam van liefde vir Hom brand.
Of ons in geloof, toewyding en oorgawe aan Hom leef.

God dwing nie sy wil en liefde op jou af nie.
Wat jy met God se wil en liefde doen, is jou persoonlike keuse,
maar ook jou persoonlike verantwoordelikheid.
Hierdie gelykenis beklemtoon net weer die groot waarheid:
Ons kies self ten opsigte van ons lewe se sin, en kwaliteit, en toekoms.

Ernest