Wees sagmoedig
“Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.”
So sê Jesus in Matteus 5:5.
Jesus het elke eienskap wat Hy in sy volgelinge wil sien,
self hier op aarde kom leef en demonstreer.
Dit geld ook om sagmoedig te wees.
Wat is die wese van sagmoedigheid?
Reeds vroeg in die Bybel maak ons kennis met Moses,
‘n sagmoedige man en leier.
Ook Sefanja skryf dat ons geregtigheid en nederigheid,
of sagmoedigheid moet nastreef.
In sagmoedigheid en nederigheid ry Jesus Jerusalem in op ‘n donkie.
Maar as Sagmoedige keer Hy ook die tafels om in die tempel,
noem Hy die Fariseërs slange en witgepleisterde grafte.
As sagmoedige tree Hy in Getsemane na vore,
en bied Homself aan vir die soldate met sy inhegtenisneming.
Sagmoedige mense kan inderdaad sterk leiers wees.
Hulle kan ferm optree en gesag en respek afdwing.
Sagmoedigheid en nederigheid lê baie naby aan mekaar.
Sagmoedigheid gee alle erkenning aan God vir wat ek bereik.
Sagmoedigheid is selfloosheid.
Om die Here eerste te stel in jou lewe en jou tot sy beskikking te stel.
Sagmoedigheid is om God bo alles lief te hê en jou naaste soos jouself.
Teenoor sagmoedigheid staan die wêreld, vol selfsug,
die smag na mag, en oorheersing, hoogmoed, en eiewaan.
Sagmoedigheid wil egter gee wanneer ander wil neem.
Dit wil help wanneer ander wil verwond.
Dit wil dien wanneer ander wil heers.
En liefhê wanneer ander wil haat.
Geseënd is die sagmoediges,
want hulle sal die nuwe aarde ontvang.
Ernest