“Maar daar kom ‘n tyd, en dit is nou,
wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid,
want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen.
God is Gees, en die wat Hom aanbid,
moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.” Johannes 4:23-24.

Jesus praat hier van aanbidding wat deur Hom moontlik gemaak is,
en wat ons sonder vrees met groot vrymoedigheid voor God laat verskyn.
Let op, niemand kan ons leer hoe om in die Gees te aanbid nie.
Die Gees help elkeen afsonderlik hierin.
Hy help jou op ‘n eie unieke manier in jou unieke verhouding met God.
Ons bid nie omdat ons weet hóé nie,
maar omdat die Heilige Gees ons lei en vir ons sekerhede gee.

Watter sekerhede gee die Gees?

Eerstens: die plek van aanbidding maak nie meer saak nie.
Ons kan God op enige plek aanbid. By die werk, agter die stuurwiel met oop oë,
in die kombuis, of tuin of natuur of waaar ookal.

Tweedens: God lééf, en gee om vir jou!
Die wat bid moet glo dat God bestaan,
en dat Hy die wat Hom soek beloon. Heb. 11:6.

Derdens: God wil ons met ons gebede help!
Daarom sê Romeine 8:26:
“Die Gees staan ons ook in ons swakheid by:
ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie,
maar die Gees self pleit vir ons……”

Vierdens: Jesus Christus sê dat ons God moet liefhê met ons hele hart,
ons hele siel, ons hele verstand en al ons krag.
Die gebed moet dus voortvloei uit ‘n permanente verbondenheid,
‘n verbondenheid tussen jou Vader-God en jou as sy kind!

Gaan bid nou so deur die Heilige Gees en in waarheid!

Ernest